Boekbespreking: Dáárom glo ek

DaaromGloEkDáárom glo ek

’n Uitnodiging tot ’n geloofsreis in ’n tyd van twyfel en verwarring.
Cas Vos.
2015.
Wellington: Bybelkor.
253 bladsye.

‘Ek het weer na God se stem in sy Woord begin luister, begin bid. Stil en hardop. God is nie dood nie. Net op papier is Hy dood. Hy is vrygespreek. God het al die teoloë oorleef. Ek is dankbaar dat dit gebeur het.

Liewe Here, welkom in ons midde’ (p 67).

In ‘n opkomende genre van werke wat kernprobleme van moderne Christene aanspreek, lewer Cas Vos ‘n unieke bydrae. Sy boek, Dáárom glo ek, bestaan uit twaalf hoofstukke, wat begin by die vraag waarom ‘n mens nog glo, en die erkenning van twyfel. Vanuit die staanspoor maak Vos dit duidelik dát hy glo, en spel vervolgens die redes uit wáárom hy steeds kan bly glo. Eerstens verduidelik hy ‘n verwarrende reeks religieuse terminologie, soos onder andere ateïsme, deïsme, panteïsme, panenteïsme en gee voorbeelde van verskillende geleerdes wat hulle hiermee vereenselwig het. Uiteindelik kies hyself vir die ‘God van die poreuse werklikheid’ (pp 65-70). Hiermee bedoel hy, ‘n God wat in die wêreld maar ook groter as die wêreld is; ‘n God wat Hom nie aan die wêreld onttrek het nie, maar die Een is wat dit geskape het en met Wie die mens ook ‘n persoonlike verhouding kan hê; ‘n God wat ‘n mens nie met die verstand kan omvat of is skemas kan inpas nie; ‘n God wat Hom bekend maak as die Vader, Seun en Heilige Gees.

TEObutton

Lees Meer>>

Resensie: Dáárom glo ek

’n Uitnodiging tot ’n geloofsreis in ’n tyd van twyfel en verwarring.
Cas Vos.
2015.
Wellington: Bybelkor.
253 bladsye.

Mense verwys graag na ’n goeie skrywer as ’n woordsmid. Ek meen daar’s ’n verdere kategorie, naamlik dié van ’n woord-virtuoos. Professor Cas Vos, emeritus dekaan van Tukkies se Teologiese Fakulteit, is presies so iemand. Wyd bekend vir sy bekroonde kerklike- en teologiese publikasies, asook vir sy uitsonderlike digbundels, is hy op sy allerbeste in: “Dáárom glo ek.” Cas reflekteer hier wetenskaplik-eerlik en kinderlik-opreg oor sy eie geloof. Onverskrokke tree hy in gesprek met kritiese stemme vanuit groeperings soos die deïsme, panteïsme en panenteïsme terwyl hyself poëties-mooi oor God praat as die God van die poreuse werklikheid. Te midde van sy indringende nadenke oor geloof kan hierdie kreatiewe teoloog-digter nie anders nie as om gedurig voor die drie-enige God in verwondering te buig en hartlangs sy geloof in Hom te bely.

“Dáárom glo ek” is ’n teologiese kragtoer, maar een waar Cas deurentyd sensitief is vir sy lesers se verstaanshorisonne. Hy slaag uitnemend daarin om ons saam te neem op hierdie geloofsreis terwyl hy die Woord van God gelowig, vars, kreatief en verantwoordelik deurdink. Saam met Job begelei hy ons byvoorbeeld om sin te maak van lyding; dit nadat hy eers padlangs geworstel het met diegene wat die Skepper-God uit sy mooi skepping probeer verban. Ook neem Cas ons op ’n boeiende reis saam met die Godsvolk van die Hebreërbrief wat onderweg is na ’n nuwe toekoms. Saam met hulle leef ons in die verwagting dat ons die Onsienlike sal sien.

Terwyl ons deur die loop van die boek toegerus word om teologies-verantwoordelik en gelowig-opreg in die spieël van die Woord te kyk, leer ken ons vir God as die Gans Andere. Dit gebeur te midde van die besef dat daar oor die krip van Jesus ’n skaduwee van ’n houtkruis hang. Die dieper betekenis van kruis as ’n skandalon, ’n aanstoot, word meesterlik ontgin, waarna ons ontdek dat die gelowige omhelsing van die kruisboodskap versoening met God bewerkstellig, Dit maak ons sy permanente vriende. Anderkant Jesus se leë graf beleef Cas ook hoedat ons nadergewink word na God. Geen wonder nie dat hyself, terwyl hy steeds teologies nadink oor die Gees, die kerk  en die lewe, luidkeels uitroep: “Toe Hy hemel toe opgevaar het, het Hy my nie verlaat nie… Dáárom glo ek” (p. 186).

Hierdie teolgiese- en geloofsreis het my skoon uitasem gelaat van opgewondenheid. Cas Vos se glashelder refleksies oor eietydse teologiese vrae en geloofskwessies is sonder weerga. Sy nadenke word deurgaans poëties omraam, terwyl dit op teologiese vlak stewig geanker is in God se openbaring. As daar een boek is wat jy in 2015 móét lees, dan is dit ongetwyfeld hierdie een!

Stephan Joubert

Buitengewone Professor, Eieteydse Ekklesiologie, UFS, en Navorsingsgenoot, Radboud Universiteit, Nijmegen

WBanners-mrt15-3

Boekbespreking: Dáárom glo ek

Gerda de Villiers

2015, Cas Vos, Dáárom glo ek. ‘n Uitnodiging tot ‘n geloofsreis in ‘n tyd van twyfel en verwarring. Bybelkor: Wellington.

‘Ek het weer na God se stem in sy Woord begin luister, begin bid. Stil en hardop. God is nie dood nie. Net op papier is Hy dood. Hy is vrygespreek. God het al die teoloë oorleef. Ek is dankbaar dat dit gebeur het.

Liewe Here, welkom in ons midde’ (p 67).

In ‘n opkomende genre van werke wat kernprobleme van moderne Christene aanspreek, lewer Cas Vos ‘n unieke bydrae. Sy boek, Dáárom glo ek, bestaan uit twaalf hoofstukke, wat begin by die vraag waarom ‘n mens nog glo, en die erkenning van twyfel. Vanuit die staanspoor maak Vos dit duidelik dát hy glo, en spel vervolgens die redes uit wáárom hy steeds kan bly glo. Eerstens verduidelik hy ‘n verwarrende reeks religieuse terminologie, soos onder andere ateïsme, deïsme, panteïsme, panenteïsme en gee voorbeelde van verskillende geleerdes wat hulle hiermee vereenselwig het. Uiteindelik kies hyself vir die ‘God van die poreuse werklikheid’ (pp 65-70). Hiermee bedoel hy, ‘n God wat in die wêreld maar ook groter as die wêreld is; ‘n God wat Hom nie aan die wêreld onttrek het nie, maar die Een is wat dit geskape het en met Wie die mens ook ‘n persoonlike verhouding kan hê; ‘n God wat ‘n mens nie met die verstand kan omvat of is skemas kan inpas nie; ‘n God wat Hom bekend maak as die Vader, Seun en Heilige Gees.

Deur die res van die boek behandel Vos al die dinge wat die hedendaagse mens kan laat twyfel. Twee van die grootste probleme is die moderne tegnologiese eeu en die wetenskap, en die probleem rondom lyding. Die wetenskap laat vrae ontstaan oor aspekte soos byvoorbeeld die Skepping, die maagdelike geboorte en die opstanding, en lyding sukkel om God se almag en sy liefde te versoen. Nêrens probeer Vos ‘n kits-antwoord gee nie, en ook probeer hy nie ‘n keuse tussen harde wetenskap en blinde naïewe geloof uitoefen nie. Hy ontvlug ook nie in die vaagheid van misterie of metafoor nie. Wat die boek merkwaardig maak, is Vos se teologies-wetenskaplike benadering. Elke hoofstuk word deeglik toegelig met insigte van teoloë – van die ou Kerkvaders tot vandag – sowel as voorbeelde uit die Bybel, die Ou – en die Nuwe Testament en telkens doen Vos moeite om die tekste se ontstaansprosesse sowel as die historiese situasie te verduidelik. En trou aan Cas Vos se aard as digter, verwoord hy sy eie belewenisse, sy twyfel, sy verstaan, sy geloof, in digvorm. Geloof is ook spirituele kuns.

Die boek sluit af met ‘n versugting – ‘Heimwee na God.’ Binne ‘n gebroke wêreld smag die mens om God, of tekens van God te sien. Vos gebruik Openbaring 15:3-4 die wyse waarop Psalm 86:8-9 hierby geïntegreer is. Daar bestaan ‘n intense behoefte by mens en skepping dat stryd en hartseer sal verdwyn, en dat die nuwe hemel en aarde ‘n werklikheid sal word. In ‘n sinlose wêreld en sinlose lyding, is dit slegs geloof die gelowige se enigste metgesel, en uiteindelik dit wat sin aan die hede en aan die toekoms gee. ‘’ Die heimwee sal eendag oorgaan in lof om God se troon. Ons sal by God in Sion wees, in die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde. Dáárom glo ek – tot my reis voltooi is’ (p 277).

In hierdie boek word daar op ‘n pastorale toon diep en moeilike probleme ontgin. Wat van religie en evolusie? Waar is God? Is daar ‘n God? Indien wel, hoekom is Hy so ver? Het Hy en ek enigsins iets vir mekaar te sê? Waar pas die kerk in, en wat van homoseksualiteit? Hierdie vrae word verligtend verken op ‘n manier van geloof wat na die rede roep, geloof wat rede nie uitsluit nie, maar insluit. Dáárom glo ek is ‘n persoonlike maar ook ‘n teologies-wetenskaplike geloofsbelydenis, en word aanbeveel vir die moderne gelowige wat dikwels teen ongeloof moet stry. In sy genre lewer die boek ‘n verligtende bydrae tot die huidige diskoers.

WBanners-mrt15-3

Boeke deur Cas Vos

Digbundels

  • Vuurtong (1999)
  • Enkeldiep (2001)
  • Gode van Papier (2003)
  • Die afdruk van ons hande (2007)
  • Intieme afwesige (2009)
  • Intimately absent (2010, vertaal deur Leon de Kock. Wenner van SALA-prys vir vertaling in 2011)
  • Duskant die donker/Before it darkens (2011, vertaal deur Leon de Kock)
  • Weerloos lewe (2012)
  • Duisend dae op jou spoor (2013)
  • Voor-bode (2015)

Essay

  • In Oosterse sluier, in Roodt, PH 2008. Amfiteater. Skrywerstemme van Oud-Tukkies

As samesteller

  • Hartlangs (Coenie de Villiers, 2012)

As teoloog

  • Die Volheid Daarvan I en II (1996; met die Andrew Murray-prys [1999] en die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns [2001] bekroon)
  • Theopoetry of the Psalms (2005)
  • Hoe kan Ek jou laat los? God se liefde vir wegloopmense – Hosea (2008)
  • Tussen God en mens. ’n Literêr-estetiese benadering tot liturgie en prediking in ’n skuiwende kultuur (Saam met Cas Wepener, 2014)

As vertaler

  • Fragmente uit die Ilias (2014)

10 vrae aan Cas Vos

Cas-Vos

Cas Vos: emeritus-professor in praktiese teologie, oud-dekaan, digter, vertaler, skrywer, Sharks-ondersteuner. Frits Gaum het met hom gesels.

1. Kan jy vir Cas Vos in vier sinne beskryf?

 Nee, Frits, ek is te delikaat aanmekaar geweef. Die ander een moet sê. In hierdie geval, Lida. Stiptelik, empaties en passievol, perfeksionis met my eie werk, verdra nie laksheid nie.

2. Jou jongste publikasie is ’n vertaling in Afrikaans van fragmente uit die Ilias van Homeros. Dié verhalende gedig word soms die beginpunt van die Westerse literêre kanon genoem. Wat het jou, by die vertaling daarvan, die meeste van dié oeroue Griekse teks aangegryp?

Met reg word die Ilias en die Odusseia allerweë as tydlose tekste beskou, tekste wat vandag nog deur almal gelees behoort te word. Twee metafore beskryf die eposse (te onderskei van e-posse!): “stryd” in die Ilias en “heimwee, verlange” in die Odusseia. Dit is nog steeds die sentrale temas van ons bestaan. Bloedige stryd en heimwee na die toekoms.

3. Daar is waarskynlik drie dominee-digters met gedigte wat tot die Afrikaanse kanon gereken kan word: Totius, IL de Villiers en Cas Vos. Jy het sedert 1999 nege digbundels gepubliseer. Watter een lê jou die naaste aan die hart?

Jy doen my ’n eer aan om my by Totius en Izak de Villiers te voeg. Digbundels is soos kinders en kleinkinders. Elkeen het sy nukke en lieflikhede. Elke bundel is deel van my lewensreis en kreatiewe uitinge.

4. Johann de Lange het geskryf dat jou gedigte gevoed word uit die antieke wêreld, die religieuse sowel as die mitologiese, maar dit reik terselfdertyd ook uit na die moderne. Jou kommentaar?

 Die antieke wêreld is die voedingsbron van die letterkunde in al sy vorme; musiek, kuns, filosofie (Plato en Aristoteles). Hierdie bodem waarin gedagtes wortelskiet moet vir die mens van ons dag vrug dra. Maar die gedigte moet ook die eietydse nood en pyn belig. Daar is net te veel onreg en ellende in ons lewe, land en wêreld. Ink moet vloei en nie bloed nie. Dit is die betekenis van gedigte.

Met ’n gansveer skryf ek op perkament van die aardbol ’n blywende testament.

 5. Jy was predikant, teologiese professor en dekaan van ’n teologiese fakulteit. Jy het 15 liedere vir die Liedboek van die kerk gedig. Tog meen De Lange jy kan nie sonder meer ’n “religieuse digter” genoem word nie. Jou kommentaar?

Ek is ’n gelowige wat deur God se genade omstraal word. In my teologiese werk en loopbaan het ek hieraan sukkelend probeer uitdrukking gee. Maar soos my oorlede vriend, Izak de Villiers, wil ek nie die etiket “religieuse digter” dra nie. As ek dig, is ek doodgewoon ’n digter. Ek sal toegee, my gedigte is deursuur van my geloof. Veral dié bundel wat later vanjaar verskyn. Dit kan ook nie anders nie. Ek glo in die lewende God.

6. Wie het die grootste invloed op jou digkuns uitgeoefen?

Die invloede op my het al in die baarmoeder begin. En Juffrou Leverton het in graad 3 woorde op my tong los­gemaak. Niemand wat dig, spring invloed vry nie. In my geval sal ek NP van Wyk Louw, DJ Opperman, ­Elisabeth Eybers en Breyten Breytenbach noem. Elkeen se afdruk op my was anders, uniek: die vormbe­heer, die poëtiese diepgang, die oorrompelende metafore …

7. Jy het in 1999 die Andrew Murrayprys gewen vir jou teologiese werk, Die volheid daarvan I en II. Wat wou jy met die skryf daarvan bereik?

Ek is baie dankbaar dat die twee dele van Die volheid daarvan gunstig in ons land en in Nederland ontvang is. Daar was, na my gevoel, destyds ’n groot behoefte aan ’n homiletiese werk in Afrikaans. Ek en my opvolger, Cas Wepener, het verlede jaar ’n nuwe boek oor die homiletiek en liturgie laat verskyn. Hierin word die literêr-estetiese momente in die erediens en preek ontgin.

8. Watter teoloog het die grootste invloed op jou teologie uitgeoefen?

Frits, nou moet ek ver terug dink. Baie ver. Augustinus, Maarten Luther, Karl Barth, Dietrich Bonhoeffer, Adrianus van Selms, Erich Zenger, Ferdinand Deist, EP Groenewald, Bertus van Zyl, Johan Heyns, Niek Schuman, Gerben Heitink en al die ongenoemdes. Elk­een het ’n afdruk op my lewe gelaat.

9. Jy is ’n verbete ondersteuner van die Sharks … of is dit die Blou Bulle?

Nee, ek sal nooit so ’n fout maak om die Blou Bulle of die Stormers te ondersteun nie. Vra vir Ian Nell! Ek, Lida, ons seuns en ons kleinkind, Reynard, is hartstogtelike Sharks. Net die dood(snikke) sal ons van hulle skei.

10. ’n Nuwe boek van jou verskyn in April by Bybel-Media: Dáárom glo ek. Waarom glo jy, Cas?

Ek het nie beplan om dié boek te skryf nie. Dit het soos ’n fontein uit my geborrel. Die boek is ’n uitnodiging tot ’n geloofsreis in ’n tyd van twyfel en verwarring. In die boek gee ek rekenskap van die inhoud en die handelinge van my geloof. Ek glo, want ek kan nie anders nie. God se liefde wat Hy deur Christus Jesus uitdruk en deur die Heilige Gees gee, is sy geskenk aan my. God gee die geloof en daarom vra Hy ook dat ek daaruit leef. Ek glo ook dat die kerk ’n hawe vir gehawendes moet wees en geregtigheid, liefde en hoop in die alledaagse lewe sigbaar moet maak.

Kerkbode, 17 Maart 2015