Home » Cas Vos » Resensie: Dáárom glo ek

Resensie: Dáárom glo ek

’n Uitnodiging tot ’n geloofsreis in ’n tyd van twyfel en verwarring.
Cas Vos.
2015.
Wellington: Bybelkor.
253 bladsye.

Mense verwys graag na ’n goeie skrywer as ’n woordsmid. Ek meen daar’s ’n verdere kategorie, naamlik dié van ’n woord-virtuoos. Professor Cas Vos, emeritus dekaan van Tukkies se Teologiese Fakulteit, is presies so iemand. Wyd bekend vir sy bekroonde kerklike- en teologiese publikasies, asook vir sy uitsonderlike digbundels, is hy op sy allerbeste in: “Dáárom glo ek.” Cas reflekteer hier wetenskaplik-eerlik en kinderlik-opreg oor sy eie geloof. Onverskrokke tree hy in gesprek met kritiese stemme vanuit groeperings soos die deïsme, panteïsme en panenteïsme terwyl hyself poëties-mooi oor God praat as die God van die poreuse werklikheid. Te midde van sy indringende nadenke oor geloof kan hierdie kreatiewe teoloog-digter nie anders nie as om gedurig voor die drie-enige God in verwondering te buig en hartlangs sy geloof in Hom te bely.

“Dáárom glo ek” is ’n teologiese kragtoer, maar een waar Cas deurentyd sensitief is vir sy lesers se verstaanshorisonne. Hy slaag uitnemend daarin om ons saam te neem op hierdie geloofsreis terwyl hy die Woord van God gelowig, vars, kreatief en verantwoordelik deurdink. Saam met Job begelei hy ons byvoorbeeld om sin te maak van lyding; dit nadat hy eers padlangs geworstel het met diegene wat die Skepper-God uit sy mooi skepping probeer verban. Ook neem Cas ons op ’n boeiende reis saam met die Godsvolk van die Hebreërbrief wat onderweg is na ’n nuwe toekoms. Saam met hulle leef ons in die verwagting dat ons die Onsienlike sal sien.

Terwyl ons deur die loop van die boek toegerus word om teologies-verantwoordelik en gelowig-opreg in die spieël van die Woord te kyk, leer ken ons vir God as die Gans Andere. Dit gebeur te midde van die besef dat daar oor die krip van Jesus ’n skaduwee van ’n houtkruis hang. Die dieper betekenis van kruis as ’n skandalon, ’n aanstoot, word meesterlik ontgin, waarna ons ontdek dat die gelowige omhelsing van die kruisboodskap versoening met God bewerkstellig, Dit maak ons sy permanente vriende. Anderkant Jesus se leë graf beleef Cas ook hoedat ons nadergewink word na God. Geen wonder nie dat hyself, terwyl hy steeds teologies nadink oor die Gees, die kerk  en die lewe, luidkeels uitroep: “Toe Hy hemel toe opgevaar het, het Hy my nie verlaat nie… Dáárom glo ek” (p. 186).

Hierdie teolgiese- en geloofsreis het my skoon uitasem gelaat van opgewondenheid. Cas Vos se glashelder refleksies oor eietydse teologiese vrae en geloofskwessies is sonder weerga. Sy nadenke word deurgaans poëties omraam, terwyl dit op teologiese vlak stewig geanker is in God se openbaring. As daar een boek is wat jy in 2015 móét lees, dan is dit ongetwyfeld hierdie een!

Stephan Joubert

Buitengewone Professor, Eieteydse Ekklesiologie, UFS, en Navorsingsgenoot, Radboud Universiteit, Nijmegen

WBanners-mrt15-3