Ek het in Kempton Park grootgeword en in 1989 teologie op Stellenbosch begin studeer. Ek is in 1995 na my studies, insluitend ‘n MA (Ou Nabye Oosterse Studie) as proponent van die NG Kerk gelegitimeer, waarna ek ‘n Doktorsgraad in Ou Testament verwerf het.
Ek woon nou reeds 16 jaar op Franskraal. Ek is getroud met Deon, ‘n boer van die omgewing en het twee kinders, Maya en Frederik. Ek was op kontrakbasis al betrokke in die NG Gemeentes Onrusrivier en Gansbaai. My passie is lering en teologiese opleiding. Die afgelope 15 jaar is ek betrokke as merker by TEEC (Theological Education by Extension College). Hierdie afstandsonderig kollege bied teologiese opleiding vir persone dwarsoor die land en bedien veral die Anglikaanse en Metodiste kerke. Sonder die betrokkenheid sou ek ‘n baie armer mens gewees het. By die Universiteit van Stellenbosch is ek betrokke as ‘n navorsingsgenoot by die Departement Sistematiese teologie en Ekklesiologie en doseer op ‘n deeltydse basis Vroeë en Middeleeuse Kerkgeskiedenis en is betrokke by die MDiv module wat handel oor Christelike Spiritualiteit.
Ek is passievol om ook die Bybel en die tradisies van die kerk aan gemeentelede oop te breek en het deur die jare vele leringsgeleenthede en Bybelstudies aangebied en het ook op ‘n stadium my eie Bybelskool bedryf. Ek glo “kennis kweek deernis”. As mense meer kennis het en sake van verskillende hoeke bekyk het hulle ook meer ruimte vir mekaar.
Ek het ook ‘n kursus in Geestelike Begeleiding voltooi (Spiritual Direction) en verlang al hoe meer daarna om ruimtes te skep waar mense kan stilword. Ek beplan om in 2015 weer twee retreat geleenthede aan te bied. Verder hou ek van skryf. My publikasie “Ontmoeting met Heiliges” (Naledi) het die Desmond Tutu-Gerit Brand -Prys ontvang vir ‘n debuutwerk. Ek is betrokke by Leesroosterprojekte en het ook al ‘n paar akademiese artikels gepubliseer. Teologies-akademies is ek baie geinteresseerd in resepsiegeskiedenis. My gunsteling vraag is “Why?” en daaroom wil ek weet hoekom ons glo wat ons glo. Meeste van my artikels was gemik om agter die kap van die byl te kom en so my eie nuuskierigheid te bevredig. Behalwe woorde is ek mal oor kleur en het die voorreg gehad om tradisionele Bisantynse ikone te kon skryf en gee my enige dag iets om in te kleur!