Toespraak by die bekendstelling van prof. Jaap Durand se nuwe boek Godsgeheim: die verhaal van wetenskap en mistieke geloof

Gerhard Geldenhuys

Baie dankie vir die geleentheid om te praat oor prof. Jaap Durand se nuwe boek. Hy is ʼn ervare en wyd gerespekteerde skrywer. Sy boeke en artikels het al vir vele Suid-Afrikaners waardevolle stof tot nadenke gegee. Aan die een kant kan ʼn mens vir jou persoonlike lewe lig kry uit die wysheid en insigte wat daar in sy boeke te vinde is. Aan die ander kant is daar van sy boeke wat perspektief gee op ontwikkelinge in teologie en die situasie van ons land en sy mense. Dit is dus met groot genoeë dat ons vanaand teenwoordig kan wees by die bekendstelling van sy jongste boek: Godsgeheim: Die verhaal van wetenskap en mistieke geloof, uitgegee deur Bybelmedia.

In die boek word daar uit drie hoeke geskryf: teologie, filosofie en wetenskap. Vanweë sy opleiding en loopbaan is hy uitnemend onderleg in teologie en filosofie. Hoewel hy nie ʼn natuurwetenskaplike is nie, het hy reeds meer as dertig jaar gelede ʼn boek geskryf oor Skepping, Mens, Voorsienigheid (N.G. Kerkboekhandel, 1981). Die ontwikkelinge in die natuurwetenskappe en in die besonder in die evolusieteorie stel groot uitdagings aan die Christen se siening oor die skepping. Daarom moes Jaap uiteraard hieroor verantwoording doen.

En pas twee jaar gelede het hy ʼn boek geskryf, Evolusie, Wetenskap en Geloof, ook uitgegee deur Bybelmedia. Daarin gee hy ʼn biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin, die Rooms-Katolieke monnik wat ook ʼn wêreldberoemde paleontoloog was. Dit is dus duidelik dat Jaap reeds van lank af en tot nou toe nog belang stel in die resultate van die wetenskap en die wyse waarop gelowiges daarop reageer.

Die titel van sy nuwe boek verwys na ʼn hele aantal begrippe.

Wat is ʼn geheim? Dit is iets wat letterlik geslote is, wat jy nie kan deurdring nie, waarvoor jy nie woorde kan vind nie, waaroor daar in die finale instansie liewers geswyg moet word.

Daar is ʼn beroemde wiskundige probleem wat gedagtes oor geheimenis by ʼn mens kan ontlok. Dit dateer van eeue voor Christus en het te doen met sirkels en vierkante. Die probleem is soos volg. Gestel ek het ʼn liniaal en ʼn passer en ʼn lekker groot stuk papier wat ek op ʼn tafel uitsit. Met die passer teken ek ʼn sirkel op die papier. Ek neem nou ook die liniaal byderhand. Die vraag is: Kan ek in ʼn eindige aantal stappe ʼn vierkant konstrueer, net met die passer en die liniaal, sodat die vierkant se area presies gelyk is aan die area van die sirkel. ʼn Vierkant se sye is almal gelyk en die area van ʼn vierkant is die kwadraat van enigeen van daardie sye. Daarom staan die probleem bekend as die kwadratuur van die sirkel. Dit is ʼn probleem wat wiskundiges vir omtrent twee duisend jaar besig gehou het, totdat dit uiteindelik in 1882 bewys is dat so ʼn konstruksie nie moontlik is nie. Ernst van Heerden het ʼn mooi gedig oor die kwadratuur van die sirkel geskryf. Dit gaan so:

Matesis
Wiskundig lê my vriend
met passer, liniaal
die kras onmoontlikhede uit:
ons fyn gekonstrueerde meganiek
om vuur en roos se windings
vas te snoer,
is kwadratuur,
en al ons wilde brandings
sal net in swaar vierkante uit kan dans.

Die gedig sê onder andere dat as ons iets ervaar wat ons emosioneel diep tref, soos die prag van ʼn ontluikende roos of die kanteling van ʼn brander wat oor die strand spoel, dit aan woorde ontbreek om ons gevoelens voldoende weer te gee. Ons kan maar net in verwondering daaroor wees. Dit is ʼn geheimenis.

Wat is ʼn Godsgeheim? As ons aanvaar dat God bestaan en dat Hy alles geskep het, verwys ʼn Godsgeheim daarna dat ons in ons nadenke oor God kom by grense wat ons nie met ons verstand kan oorsteek nie. Ons kan nie die woorde vind om God voldoende te beskryf nie. Hy is waarlik die Gans Andere wat uiteindelik buite ons volledige begrip lê.

Wat is ʼn mistieke geloof? Dit is ʼn diep verwondering oor en vertroue op juis hierdie God wat ons nie volkome kan begryp nie. ʼn Mistieke geloof kan ook gevoed word wanneer die gelowige iets ervaar van ʼn ontmoeting met God of as die gelowige ʼn insig verwerf wat hy of sy glo net deur God ingegee is.

Dit bring ons by nog ʼn woord in die titel, naamlik ・wetenskap.・ Hier kan ons eenvoudig die begrip aanvaar wat die gemiddelde leser daarvan het. ʼn Wetenskaplike, altans in die natuurwetenskappe, ondersoek verskynsels deur middel van eksperimente of ontledings totdat daar ʼn patroon in die resultate ontstaan waaruit daar deur logiese redenering ʼn gevolgtrekking gemaak kan word. ʼn Voorbeeld van so ʼn gevolgtrekking gaan oor die temperatuur en druk van ʼn gas in ʼn geslote houer. As al die ander faktore dieselfde bly en die temperatuur van die gas verhoog word, sal die druk daarvan ook ooreenkomstig verhoog.

ʼn Laaste woord in die titel is ・verhaal.・ In sy boek sê Jaap duidelik dat hy eintlik net ʼn storie wil vertel, ʼn verhaal van mense, omdat dit juis mense is wat wetenskap beoefen, wat nadink oor God, en wat moet besluit of daar in hulle wetenskapsbeoefening ruimte vir God is.

Daar is natuurlik mense wat oortuig daarvan is dat daar geen God is nie. Daar is ook mense wat onseker is of daar wel ʼn God bestaan en tevrede is om geen besluit daaroor te neem nie. Jaap se nuwe boek gaan egter nie oor ateïsme of agnostisisme nie.

Die mense wat wel in die rolverdeling van sy boek voorkom, strek van eeue vóór Christus tot vandag. Uit die tydperk voor Christus sal diegene van ons wat wiskunde op skool geneem het, bly wees om vir Pythagoras en sy skool te herken. Die beroemde Griekse filosoof Plato en sy ewe beroemde student Aristoteles speel baie prominente rolle in hierdie tydperk en hulle invloed is oor eeue heen duidelik merkbaar. Jaap wys daarop dat die Westerse wêreld in die vroeë jare van die Christendom sterk deur die Griekse kultuur gestempel is. Selfs vanuit Aleksandrië in Noord-Afrika is die Griekse kultuur sterk uitgedra.

Die gevolg is dat Christendenkers en selfs ʼn apostel soos Johannes kennis van die Griekse erfenis moes neem en dit ook in hulle beskouing van die evangelie in ag moes neem. Die groot rol wat die beroemde kerkvader Augustinus gespeel het, word besonderlik beklemtoon.

Geleidelik ontwikkel daar twee strome oor mistieke geloof en die wetenskap. Die een stroom is dié van die Christelike geloof waarin God as Vader en Skepper erken word, Christus die Here is en die Heilige Gees by en in die gelowige woon. In die drie-eenheid en die inwoning van die Heilige Gees staan ons voor ʼn misterie en kan ons ons net in ʼn mistieke geloof verwonder oor die geheimenis van God.

Die ander stroom is dié van deïsme. In deïsme word wel erken dat God alles geskep het en dat Hy die wette daargestel het waarvolgens alles in die heelal ontwikkel. Hoe God dit gedoen het, bly ʼn misterie en sy wonderdaad kan net in ʼn mistieke geloof bely word. Vir ʼn deïs is daar egter nie sprake van ʼn persoonlike God met wie die mens in ʼn verhouding kan tree nie. God het geskep, en Hy trek Hom as’t ware terug om te sien hoedat sy skepping verder ontwikkel.

Die Middeleeue word beskou as ʼn tyd van relatiewe stagnasie op baie gebiede, maar Jaap toon dat daar wel invloedryke denkers soos Bernard van Clairvaux was wat deur sy geskrifte gesorg het dat die beste idees uit die vroeë Christelike era bewaar en oorgedra kon word.

Met die aanbreek van die Verligting in die sewentiende eeu het die werk van wetenskaplikes soos Galileo en Newton totaal nuwe benaderings in die wetenskap moontlik gemaak en is resultate verkry wat in baie opsigte totaal verskil het van dit wat in die Griekse kultuur aanvaar is. Die gedagte dat die mens suiwer met sy denke in staat is om alles te ontrafel, het begin posvat.

Vir sy storie kies Jaap twee wiskundiges uit die Verligting, albei wêreldberoemd. René Descartes is ’n voorbeeld van ʼn deïs en Blaise Pascal is ʼn voorbeeld van ʼn Christengelowige. Albei glo op ʼn mistieke manier in God, maar op verskillende wyses. Pascal was nie net ʼn wiskundige nie maar het ook in fisika ontdekkings gemaak wat tot vandag toe sy naam dra. Hy is ʼn internasionaal erkende wetenskaplike wat wel sy geloof in God bely het en sy wetenskapsbeoefening sinvol met sy geloofsoortuiging kon integreer.

Oor die afgelope sowat 150 jaar het die wetenskap verbysterende vordering gemaak. Darwin se evolusieteorie het wêreldwyd opslae gemaak. Einstein se relatiwiteitsteorie het ons op ʼn heeltemal ander manier na die heelal laat kyk. Ruimtereise en ruimte-teleskope het ons kennis van die heelal ongelooflik uitgebrei.

Uit hierdie tydperk kies Jaap weer twee wetenskaplikes wat hulle geloof in God op ʼn mistieke wyse bely. Die wêreldberoemde kosmoloog Stephen Hawking het in sy boek A brief history of time ʼn mistieke geloof in ʼn Skeppergod bely, ʼn voorbeeld van deïsme. Aan die ander kant is daar Francis Collins, die wetenskaplike wat aan die hoof gestaan het van die amptelike Amerikaanse genoomprojek.

Hy is ʼn voorbeeld van ʼn internasionaal erkende wetenskaplike wat sy Christelike geloof sinvol integreer met sy wetenskapsbeoefening. Terselfdertyd getuig Collins van ervarings wat net vanuit ʼn mistieke geloofsoortuiging verstaan kan word.

Die boek sluit af met ʼn lofprysing van God. Die diepste geheimenis van God kan slegs deur die Heilige Gees deursoek word. ʼn Wonder van die evangelie is dat die onsienlike God Homself nogtans in Christus kom openbaar het.

Ek meen dat Jaap Durand met die skryf van hierdie boek ʼn waardevolle diens aan sy lesers gelewer het.

Met sy kennis, ervaring en navorsing het hy die pad uitgelê waarlangs idees oor wetenskap en godsdiens oor eeue heen ontwikkel het en het hy ons bekend gestel aan belangrike rolspelers, verskeie waarvan ek vir die eerste keer in sy boek leer ken het. Dit was dus vir my ʼn interessante leerproses.

Jaap het gewys dat daar wel internasionaal erkende wetenskaplikes is wat hulle wetenskap bedryf met die gerustheid in hulle harte dat hulle daarmee nog steeds sonder botsing hulle geloof in God die liefdevolle Vader, Jesus sy genadige Seun, en die inwonende Heilige Gees kan bely.

Christen-wetenskaplikes wat voel dat hulle self op een of ander wyse ʼn ontmoeting met God gehad het of ʼn aanraking deur Hom ervaar het, kan deur sulke rolmodelle bemoedig word om daarvan te vertel en daarna te streef om ook hulle geloof te versoen met die resultate van die wetenskappe wat hulle bedryf.

Verder slaag Jaap daarin om te verduidelik dat die nuwe insigte wat in ʼn bepaalde era verkry word, slegs behoorlik verstaan kan word as die bestaande kennis en die bestaande denkpatrone van daardie era in ag geneem word. Jy kan byvoorbeeld nie net met vandag se insigte die vroeë Christelike kerk se siening van godsdiens en wetenskap beoordeel as jy nie die omgewing en tradisies van daardie tyd in ag neem nie. Dit lyk na ʼn les wat ook vandag in Suid-Afrika van toepassing kan wees.

Nog ʼn diens is dat Jaap ʼn baie duidelike beskrywing gee van deïsme en die verskille tussen deïsme en die Christelike geloof. Hy maak dit ook konkreet deur dit te illustreer met biografiese inligting oor internasionaal bekende wetenskaplikes aan beide kante. In debatte oor hierdie onderwerp word daar soms standpunte gestel wat die leek in verwarring kan bring. Die boek voorsien inligting en agtergrond wat die leser kan help om sulke debatte te volg en ʼn eie mening daaroor te vorm.

Ten slotte sal die boek gelowiges help om in hulle eie persoonlike lewens tye of geleenthede te herken waarvan hulleself ook kan getuig dat ʼn geheimenisvolle God op ʼn onbegryplike manier hulle lewens aangeraak het.

Vir al hierdie dienste wat Jaap aan sy lesers gelewer het, sê ons baie dankie.

Veels geluk met die nuwe boek!