10 vrae aan Cas Vos

Cas-Vos

Cas Vos: emeritus-professor in praktiese teologie, oud-dekaan, digter, vertaler, skrywer, Sharks-ondersteuner. Frits Gaum het met hom gesels.

1. Kan jy vir Cas Vos in vier sinne beskryf?

 Nee, Frits, ek is te delikaat aanmekaar geweef. Die ander een moet sê. In hierdie geval, Lida. Stiptelik, empaties en passievol, perfeksionis met my eie werk, verdra nie laksheid nie.

2. Jou jongste publikasie is ’n vertaling in Afrikaans van fragmente uit die Ilias van Homeros. Dié verhalende gedig word soms die beginpunt van die Westerse literêre kanon genoem. Wat het jou, by die vertaling daarvan, die meeste van dié oeroue Griekse teks aangegryp?

Met reg word die Ilias en die Odusseia allerweë as tydlose tekste beskou, tekste wat vandag nog deur almal gelees behoort te word. Twee metafore beskryf die eposse (te onderskei van e-posse!): “stryd” in die Ilias en “heimwee, verlange” in die Odusseia. Dit is nog steeds die sentrale temas van ons bestaan. Bloedige stryd en heimwee na die toekoms.

3. Daar is waarskynlik drie dominee-digters met gedigte wat tot die Afrikaanse kanon gereken kan word: Totius, IL de Villiers en Cas Vos. Jy het sedert 1999 nege digbundels gepubliseer. Watter een lê jou die naaste aan die hart?

Jy doen my ’n eer aan om my by Totius en Izak de Villiers te voeg. Digbundels is soos kinders en kleinkinders. Elkeen het sy nukke en lieflikhede. Elke bundel is deel van my lewensreis en kreatiewe uitinge.

4. Johann de Lange het geskryf dat jou gedigte gevoed word uit die antieke wêreld, die religieuse sowel as die mitologiese, maar dit reik terselfdertyd ook uit na die moderne. Jou kommentaar?

 Die antieke wêreld is die voedingsbron van die letterkunde in al sy vorme; musiek, kuns, filosofie (Plato en Aristoteles). Hierdie bodem waarin gedagtes wortelskiet moet vir die mens van ons dag vrug dra. Maar die gedigte moet ook die eietydse nood en pyn belig. Daar is net te veel onreg en ellende in ons lewe, land en wêreld. Ink moet vloei en nie bloed nie. Dit is die betekenis van gedigte.

Met ’n gansveer skryf ek op perkament van die aardbol ’n blywende testament.

 5. Jy was predikant, teologiese professor en dekaan van ’n teologiese fakulteit. Jy het 15 liedere vir die Liedboek van die kerk gedig. Tog meen De Lange jy kan nie sonder meer ’n “religieuse digter” genoem word nie. Jou kommentaar?

Ek is ’n gelowige wat deur God se genade omstraal word. In my teologiese werk en loopbaan het ek hieraan sukkelend probeer uitdrukking gee. Maar soos my oorlede vriend, Izak de Villiers, wil ek nie die etiket “religieuse digter” dra nie. As ek dig, is ek doodgewoon ’n digter. Ek sal toegee, my gedigte is deursuur van my geloof. Veral dié bundel wat later vanjaar verskyn. Dit kan ook nie anders nie. Ek glo in die lewende God.

6. Wie het die grootste invloed op jou digkuns uitgeoefen?

Die invloede op my het al in die baarmoeder begin. En Juffrou Leverton het in graad 3 woorde op my tong los­gemaak. Niemand wat dig, spring invloed vry nie. In my geval sal ek NP van Wyk Louw, DJ Opperman, ­Elisabeth Eybers en Breyten Breytenbach noem. Elkeen se afdruk op my was anders, uniek: die vormbe­heer, die poëtiese diepgang, die oorrompelende metafore …

7. Jy het in 1999 die Andrew Murrayprys gewen vir jou teologiese werk, Die volheid daarvan I en II. Wat wou jy met die skryf daarvan bereik?

Ek is baie dankbaar dat die twee dele van Die volheid daarvan gunstig in ons land en in Nederland ontvang is. Daar was, na my gevoel, destyds ’n groot behoefte aan ’n homiletiese werk in Afrikaans. Ek en my opvolger, Cas Wepener, het verlede jaar ’n nuwe boek oor die homiletiek en liturgie laat verskyn. Hierin word die literêr-estetiese momente in die erediens en preek ontgin.

8. Watter teoloog het die grootste invloed op jou teologie uitgeoefen?

Frits, nou moet ek ver terug dink. Baie ver. Augustinus, Maarten Luther, Karl Barth, Dietrich Bonhoeffer, Adrianus van Selms, Erich Zenger, Ferdinand Deist, EP Groenewald, Bertus van Zyl, Johan Heyns, Niek Schuman, Gerben Heitink en al die ongenoemdes. Elk­een het ’n afdruk op my lewe gelaat.

9. Jy is ’n verbete ondersteuner van die Sharks … of is dit die Blou Bulle?

Nee, ek sal nooit so ’n fout maak om die Blou Bulle of die Stormers te ondersteun nie. Vra vir Ian Nell! Ek, Lida, ons seuns en ons kleinkind, Reynard, is hartstogtelike Sharks. Net die dood(snikke) sal ons van hulle skei.

10. ’n Nuwe boek van jou verskyn in April by Bybel-Media: Dáárom glo ek. Waarom glo jy, Cas?

Ek het nie beplan om dié boek te skryf nie. Dit het soos ’n fontein uit my geborrel. Die boek is ’n uitnodiging tot ’n geloofsreis in ’n tyd van twyfel en verwarring. In die boek gee ek rekenskap van die inhoud en die handelinge van my geloof. Ek glo, want ek kan nie anders nie. God se liefde wat Hy deur Christus Jesus uitdruk en deur die Heilige Gees gee, is sy geskenk aan my. God gee die geloof en daarom vra Hy ook dat ek daaruit leef. Ek glo ook dat die kerk ’n hawe vir gehawendes moet wees en geregtigheid, liefde en hoop in die alledaagse lewe sigbaar moet maak.

Kerkbode, 17 Maart 2015