10 vrae aan Vincent Brümmer

Vincent BrummerProf Vincent Brümmer, wêreldbekende godsdiensfilosoof,  is vanjaar die wenner van die Andrew Murrayprys vir sy boek, Vroom of regsinnig? – Teologie in die NG Kerk (uitgegee deur Bybel-Media). Frits Gaum het met hom gesels.

1. Wie is Vincent Brümmer?

Ek woon nou al 48 jaar in Nederland. Hiervan was ek vir 31 jaar hoogleraar in die godsdiensfilosofie aan die Rijksuniversiteit in Utrecht. My wortels lê egter in Stellenbosch waar ek gebore is, skoolgegaan het en gestudeer het.

2. Baie geluk met 2015 se Andrew Murrayprys! ’n Godsdiensfilosoof wat  kerkgeskiedenis skryf?

My boek is eerder intellektuele geskiedenis as kerkgeskiedenis. As filosoof is ek nie in die eerste plek soos die historici geïnteresseerd in gebeurtenisse nie, maar in standpunte en argumente. Ek analiseer in Vroom of regsinnig? dus veral die twee groot teologiese debatte wat tussen 1850 en 1932 (die jaar waarin ek gebore is) die gemoedere in die NG Kerk besig gehou het: die modernismestryd in die 1860’s oor die vraag of God ’n bonatuurlike persoonlike wese is met wie ons ’n persoonlike verhouding kan hê, of dat Hy één is met die natuur sodat ons eintlik self ook deel van die “goddelike” is. Dan die stryd met prof Johannes du Plessis in die 1920’s oor die vraag wat ons bedoel as ons sê dat die Bybel die Woord van God is. Vanuit die verre Nederland interesseer hierdie debatte my veral omdat hulle die agtergrond vorm van my eie geestelike en intellektuele wortels. Sowel my vader as my oupa was Stellenbosse professore wat destyds deelgeneem het aan die debatte.

3. Dit het dus nie in die 20ste eeu in die NG Kerk nét oor apartheid gegaan nie?

Die kerklike debat oor apartheid dateer eintlik van ná die periode wat ek in my boek bespreek. Dit wil egter nie sê dat die standpunte wat in my boek bespreek word, nie ’n belangrike rol gespeel het in sowel die verdediging as die verwerping van apartheid nie.

4. Jy dui in jou boek aan dat daar in ’n stadium veral twee teologiese strominge in die NG Kerk was. Hoe onderskei jy tussen dié strominge?

Herman Bavinck het onderskei tussen mense wat hulle geloof bely en mense wat glo in die belydenis. Vir die eerste groep is hulle geloof primêr eksistensieel eerder as intellektueel. Vir die tweede groep is hulle geloof primêr die intellektuele aanvaarding van (konfessionele) waarhede. Vir die eerste groep is die belangrikste vraag in die teologie: Is jy ’n kind van God? Vir die tweede groep is dit: Is jy gereformeerd?

5. Is daar vandag nog twee sulke strominge in die NG Kerk?

Hierdie twee denkwyses is so ingebed in die geskiedenis van die NG Kerk dat hulle vandag nog steeds ’n rol speel in die denke van die kerk. Hoewel die meeste mense probeer om hierdie denkwyses op die een of ander manier te kombineer, lê hulle die aksente meestal verskillend.

6. Jy verwys heelwat na die prof Johannes du Plessis-saak wat die kerk in die 1920’s aan die kook gehad het. Is die strydpunte wat Du Plessis destyds sy professorskap gekos het, vandag nog van belang?

Ek meen dat die vraag wat ons bedoel as ons sê dat die Bybel die “geïnspireerde Woord van God” is, vandag nog steeds ’n sentrale rol speel in die teologiese denke van die NG Kerk. Hierdie vraag het nog lank nie oorgewaai nie!

7. Van ’n Nederlandse hoek gekyk: Hoe lyk die NG Kerk se toekoms vir jou?

Die NG Kerk moet nog gewoond raak aan die feit dat dit nie meer die kerk van die maghebbers is nie. Die NG Kerk moet ook nog leer hoe om sy boodskap in ’n sekulêre samelewing te verkondig. As kind van God vertrou ek egter dat Hy sy kerk in stand sal hou deur al die veranderende en bedreigende omstandighede heen. Bowendien glo ek dat die Here sy kinders wil gebruik om hierdie doel te verwesenlik.

8. Hoe is dit gesteld met die kerk in Nederland?

Die sekularisasie van die samelewing is in Nederland baie verder deurgevoer as in Suid-Afrika. In Nederland is nog maar ’n derde van die samelewing op die een of ander manier gelowig – en dan tel ek die Jode en Moslems daarby! Hier moet ons daaraan gewoond raak dat ons ’n klein en krimpende minderheid in die samelewing vorm. Maar so was dit ook in die vroeë kerk!

9. Jou boek, What do we do when we pray? is in 2009 bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys. Wat doen ons as ons bid, Vincent?

As ons bid, soek ons ons liefdesverhouding met God deur Hom te vra om hulp in ons nood; ons herstel dit wanneer ons dit beskadig het deur ons skuld te bely, om vergewing te vra en ons aan Hom toe te wy; en ons bevestig dit in ons dank en/of lofsegging. Bowendien oefen ons ons daarin om ons lewe en ervaringe te verstaan in terme van hierdie verhouding. Dit is hierdie manier van verstaan wat sin verleen aan ons lewe en ervaring.

10. Waarmee is jy nou besig?

Ek het met die oog op Vroom of regverdig? ’n groot hoeveelheid materiaal versamel wat nie in die boek verwerk is nie. In die komende jare wil ek probeer om nog ’n aantal opstelle daaroor te skrywe.

Kerkbode, 20 May