Boekbekendstelling: Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk

VroomEnRegsinnig’n Blik op die kerkgeskiedenis

Outeur: Vincent Brümmer

Uitgewer: Bybel-Media

Prys: R150

 Deur: Kristy (Claassen) van der Merwe

Die Nederlandse filosoof Vincent Brümmer was vir 30 jaar professor in Godsdiensfilosofie aan die Universiteit van Utrecht en het gedurende hierdie tydperk vir drie termyne gedien as die voorsitter van die Europese Vereniging vir Godsdiensfilosofie. Uiteraard handel Vroom of Rregsinnig? Teologie in die NG Kerk oor meer as net ’n blote oorvertel van geskiedkundige momente in die geskiedenis van die NG Kerk en behoort dit eerder as ’n intellektuele geskiedenis beskou te word.

Vir Brümmer is daar ’n goue draad wat regdeur die geskiedenis van die NG Kerk loop, naamlik die verband tussen regsinnigheid van hart en regsinnigheid van leer. Die onderskeid tussen hierdie twee teologiese strominge behoort as ’n implisiete subteks in die debatte van die kerk gesien te word en kan ook dien as ’n raamwerk waarbinne die kontroverse in die kerk beoordeel kan word.

Vroomheid of regsinnigheid van hart word gesien as ’n persoonlike verhouding met God en berus op die beskouing dat God nie verstaan wil word nie, maar dat God eerder bemin wil word. Hierteenoor sou dié wat kies vir ’n regsinnigheid van leer eerder klem plaas op die verdediging van die leerstellinge van die kerk soos neergelê in die belydenisskrifte.

Hierdie onderskeid loop die gevaar om as kunsmatig gesien te word, maar Brümmer maak dit duidelik dat die onderskeid nie as rigied en onbuigbaar verstaan moet word nie. Hy noem ook dat daar oor die afgelope 150 jaar verskeie teoloë was wat gepoog het om hierdie kloof tussen regsinnigheid van hart en regsinnigheid van leer te oorbrug. Hy verwys spesifiek na Herman Bavinck wat met albei strominge identifiseer, maar nie noodwendig aanklank gevind het by die mees prominente verteenwoordigers van die twee strominge nie.

Brümmer lig verskeie momente, prominente figure en debatte uit met die doel om aan te dui dat meeste teoloë wel meer prominent na óf vroomheid óf regsinnigheid geneig het. So word Andrew Murray en Nicolaas Hofmeyer se verset teen die Moderne Rigting in die teologie as ’n voorbeeld  voorgehou van hoe hierdie klem op regsinnigheid van hart bepalend was in teologiese worstelinge in die Kaap gedurende die 19de eeu. Die metafoor van kindskap in teenstelling met knegskap word uitgelig as ’n sentrale “hoofwaarheid” in die teologie van die regsinniges van hart. Brümmer beskryf hierdie stroom ook as ’n mistieke godsbeskouing en beredeneer die ontwikkeling daarvan deur ’n omvattende analise van die werk van John Murray, Nicolaas Hofmeyer en Andrew Murray – wat hy as pioniers van die Suid Afrikaanse teologie beskou. Hierdie uiteensetting word aangevul met ’n deeglike beskrywing van die manier waarop teologiese vraagstukke soos die uitverkiesingsleer, Skrifverstaan en die werk van die Gees vanuit hierdie stroom benader is.

Teenoor die regsinnigheid van hart beskryf Brümmer regsinnigheid van leer as teologiese aksent. Geloof is ’n intellektuele saak vir hierdie stroom, en die mees prominente figuur wat hier ter sprake kom, is Abraham Kuyper. Brümmer beskryf Kuyper as ’n konfessionalis vir wie die soewereiniteit van God van kardinale belang is. In hierdie stroming word ’n poging aangewend om die uitdagings van die Verligting die hoof te bied deur ’n suiwer Christelike kultuur te ontwikkel wat alle terreine van die lewe, ook die politieke en wetenskaplike, insluit. Brümmer slaag daarin om die uiters belangrike skakel tussen die Nederlandse teologie en die ontwikkeling van teologie aan die Kaap weer eens uit te lig.

Hy bespreek ook die kontroversie wat gevolg het uit die optrede van Johannes du Plessis wat as redakteur van die Kerkbode in 1911 uitgevaar het teen die oordrewe konfessionalisme van die Gereformeerde Kerke. Hierdie moment uit die geskiedenis van die NG Kerk wat Brümmer behandel, laat die leser toe om self parallelle te trek met die onlangse kontroversiële gebeure in die kerk.

Vroom of regsinnig? kan aanbeveel word vir predikante en lidmate wat ’n belangstelling in die kerkgeskiedenis het. Alhoewel hierdie boek nie pertinent gerig is op Hervormde lidmate nie, laat dit die leser toe om die godsdienstige milieu in die groter Suid-Afrikaanse konteks beter te verstaan. Laastens dien hierdie boek ook as ’n duidelike illustrasie van die belang van ’n verstaan van die geskiedenis om op ’n verantwoordelike wyse sin te maak van huidige teologiese en kerklike debatte. Die boek sal dus interessante leesstof wees vir diegene wat ’n waardering het vir die nuanses van die teologiese landskap in Suid-Afrika.