PROF JAAP DURAND
BEKENDSTELLING VAN BUNDEL MET 80STE VERJAARSDAG
Ek gaan nie iets sê oor Prof. Jaap as persoon nie – alhoewel dit hoort by só ‘n geleentheid, waar ons sy 80 jaar vier, en ek wens ek het die tyd gehad om wél hardop oor hóm na te dink en herinneringe aan hom te deel.
Ek gaan ook nie iets sê oor die inhoud van die bundel – oor Belhar, oor eenheid, versoening en geregtigheid, en oor sy eie rol daarin nie, hoewel dié inhoud vandag aktueel bly en die bundel ons daarin kan help, sodat dit ‘n wonderlike idee en tydige publikasie is, om die familie, redakteur en uitgewer voor te bedank.
Ek wil net iets sê oor die stem wat ‘n mens hier hoor, die styl van die werk, die aard van die argument, die manier van dink, die sóórt teologie – want by die lees van die preke het dié stem, dié styl, dié soort denke my wéér – soos so dikwels tevore – getref en verras.
‘n Eerste leidraad dat hier iets merkwaardigs gebeur lê al in die preke se bondigheid en eenvoud. ‘n Mens hoor net nooit sulke preke nie, een na die ander, sonder uitsondering. Dis byna asof hy nie lang sinne, groot woorde en moeilike paragrawe nodig het om te sê wat hy wil nie. Kort en helder is die formuleringe én die preke, kláár, in die dubbele betekenis van duidelik én verby, soms skaars na hulle begin het.
Nou kom dié ideaal van ver. Ook Calvyn het al gestrewe na eenvoud en bondigheid. Hy wou nie die waarheid verduister deur onnodige woorde nie. Nes Luther, wat homself met vriende vergelyk en sê, anders as hulle mooi woorde maar gebrek aan inhoud wil hy eerder inhoud hê as vele woorde. Maar sowel Calvyn as Luther sou híér kon kom les neem – koop maar die bundel en lees self.
So kom ek vra u ‘n raaisel. Hoe is dit móóntlik dat sy werk so bedrieglik eenvoudig is, tegelyk so diepsinnig én so sonder smuk?
Ágter dié spanning – tussen inhoud en woorde – skuil ‘n eeue oue konflik, dié tussen filosofie en retoriek, vanaf die filosoof Plato se stryd met die retoriese Sofiste, tot vandag, in vele vorme. Filosofie is op soek na waarheid, retoriek is op soek na oortuiging, oorreding, effek.
Retoriek berus – so is gesê – op drie aspekte, te wete etos, logos en patos. Etos verwys na die integriteit, die karakter, die geloofwaardigheid van die spreker. Logos verwys na die logika, die waarheid van wat gesê word. Patos verwys na die emosies, die behoeftes, die harte van die hoorders. Goeie retoriek berus op die geloofwaardigheid van die spesifieke spreker en die aanvaarbaarheid van die spesifieke argumente in die oë van die spesifieke gehoor.
Filosofie, daarenteen, is slegs geïnteresseerd in die logos, net in die waarheid van wat gesê word, in die inhoud, ongeag wié dit sê of vír wie. Vir die filosofie kan iets nie waar wees omdat sekere mense dit sê, maar onvanpas in ‘n ander se mond of ‘n ander konteks nie. Waarheid is tydloos en algemeen, of dis nie waar nie.
Nou vir die raaisel. Staan Durand, met sy bondige en eenvoudige styl in die filosofiese of die retoriese tradisie? Want dis die merkwaardige. ‘n Mens sou naamlik dink dis die filosofiese styl, wat dinge logies en tydloos sê en nie enige omhaal van woorde benodig om gehore te beïndruk en oortuig nie. Maar dis nie die geval nie, inteendeel.
Dalk meer as sy tydgenote was Durand bewus van die oomblik, van hoorders, van die effek van woorde, van konteks, van geskiedenis. By elke preek in hierdie bundel staan die datum, gemeente en geleentheid – en nie sonder rede nie. Dit was preke op dáárdie dag, vir dáárdie hoorders, in dáárdie oomblik. Elkeen van die toesprake en artikels in die bundel is gebore in ‘n spesifieke uur, vir ‘n spesifieke gehoor. In sy dogmatiek proefskrif sou hy reeds tydlose denke in sisteme afwys ten gunste van historiese denke, bewus van waarheid vir die tyd. Male sonder tal sou hy my waarsku om alle sisteem-denke te wantrou, want die waarheid kom nie in in tydlose, universele vorm nie. Een van sy bekende reaksies sou begin met die kritiek dat die betrokke bydrae netsowel in Ysland geskryf kon gewees het, want dit regverdig ‘n soort denke wat niks te make het met die werklikheid nie. As hy terugkyk op die ontwikkeling van sy eie denke – in ‘n outobiografiese opstel ook in hierdie bundel – beskryf hy dit as ontwikkeling vanaf tydlose beginsels na kontekstuele metafore, en daarmee bedoel hy presies dít. Hy beoefen teologie as taal wat waar vir die konkrete oomblik. Dis ook wat Gereformeerde belydenis is, openbare getuienis gebore in oomblikke van waarheid, soos wat hy hier uiteensit.
Dis die merkwaardige – wat my weer so verras het. Hoe is dit moontlik dat iemand wat nié glo in tydlose en universele beginsels nie, maar in taal wat waar is in die hede, nié ‘n omhaal van woorde benodig nie, maar eenvoudig en bondig net kan sê hoe dinge is? Ook sý denke en teologie is retories, kontekstueel het mense destyds gesê, konfessioneel, selfs profeties, maar sonder baie woorde. Hoe is dit moontlik?
Dis die raaisel. Ek dink ek weet dalk die antwoord, maar daarvoor sou ek iets moes sê oor die mens, oor die integriteit en geloofwaardigheid van sy persoon, en oor die inhoud van die bundel, oor sy onderskeidingsvermoë vir wat telkens op die spel is – maar Prof Jaap sou dikwels kla dat ek te lank praat en skryf en te veel woorde gebruik, so ek laat dit liewer daar.
Dirkie Smit
Hofmeyrsaal, Stellenbosch
26 Mei 2014