Deur Jurie le Roux
Hieronder volg enkele gedagtes oor Jaap Durand se werk oor Teilhard de Chardin en sy besinning oor evolusie, wetenskap en geloof.
In die sestigerjare van die vorige eeu het Johan Heyns in ‘n werk, ‘Die Evangelie in krisis’, oor destydse denkstrominge, wat volgens hom die evangelie bedreig het, geskryf. ‘n Stuk of veertien persone is bespreek en baie krities beoordeel. Een van hulle was Teilhard de Chardin. Heyns noem sy denke spekulatief en verwerp veral die feit dat hy God ‘’n inherente deel van die evolusieproses maak’ en daarmee die Bybelse Godsbegrip volledig ignoreer. Teilhard sou ook die moderne mens ook van geluk en sekerheid beroof (Heyns 1966:84).
Dít was Heyns se siening lank gelede en ‘n mens kan sy siening waardeer, maar Teilhard de Chardin was egter baie meer en baie groter as net ‘n ondermyner van die geloof en evangelie. Dit het Jaap Durand ook in sy pasverskene werk oor Teilhard de Chardin gewys. Dit is ‘n besondere biografie wat die lewe en werk van Teilhard de Chardin helder beskryf en sy standpunte mooi uiteensit. Dit is ‘n tydige werk wat ‘n groot bydrae tot Teilhard se denke lewer en ook uitstekende perspektiewe op evolusie verskaf. Anders gestel: Durand open nuwe moontlikhede om oor evolusie te praat deur die evolusiedenke van Teilhard na te vertel.
Teilhard was ‘n priester, maar ook geoloog wat soos min ander die aarde, die heelal en die kosmos se geheime probeer ontrafel het. ‘n Belangrike ‘denkinstrument’ om die heelal te verstaan, was (volgens Teilhard) evolusie. Hy het dit egter op ‘n baie besondere manier gebruik: hy het dit in sy teologiese denkraamwerk ingebou en God en mens en wêreld van hieruit probeer verstaan.
Om dit begryp, is twee sake belangrik: Teilhard se vroomheid en sy belangstelling in klippe, rotse, plante, ensovoorts. Sy denke wys die invloed van beide. As jong seun lees hy Thomas à Kempis se ‘De Imitatione Christi’, en dit sou hom lewenslank bybly. Veral die klem op geestelike afsondering, gebed, meditasie asook die mistieke band met God en die geloofseenheid met Christus. Sy geloof en hierdie geestelike waardes het hom as mens en later as wetenskaplike op ‘n besondere manier gevorm. Op 20 Maart 1899 sluit hy hom dan ook as agtienjarige by die Jesuïete Orde aan en dit was die begin van ‘n lang en stormagtige tyd as priester.
Daar was ook ‘n ander kant van Teilhard se lewe wat vroeg al ontwikkel is: sy groot belangstelling in die natuurwêreld. Sy pa het hom van jongs af geleer om dinge soos insekte en voëls en veral klippe te versamel en te beskryf. Later in sy lewe sou hy van die wêreld van sy jeug sê dat dit vir hom ‘n ‘museum was van natuurgeskiedenis en wildbewaring, die oorsprong van sy eerste vreugdevolle ontdekkings’ (Durand 2013:30). Hierdie belangstelling in die natuur het mettertyd tot ‘n oorweldigende liefde vir die kosmos gegroei.
Dít het egter tot groot innerlike spanning gelei. As teologiestudent het hy geworstel met sy verlange na die ‘mistieke onttrekking aan die wêreld’ (soos Thomas à Kempis se werk hom geleer het) én sy drang om die kosmos, die heelal te bestudeer. Dit was as ‘t ware ‘n drang weg ván die wêreld en ná die wêreld. Hierdie twee kante of belangstellings of drange word mettergaan in sy oortuiging verenig dat hy God ook as natuurnavorser kan liefhê; hy kon God en kosmos saam harstogtelik liefhê.
Uiteindelik word Teilhard priester, maar ook geoloog en paleontoloog wat soos min ander die aarde, die heelal, die kosmos se geheime probeer ontrafel het. ‘n Belangrike denkinstrument of denkapparaat om die heelal te verstaan, was evolusie. Teilhard het dit egter op ‘n baie unieke manier gedoen deur die evolusiegedagte in sy teologiese denke in te bou en God en mens en wêreld vanuit hierdie perspektief te probeer verstaan. Dít was volgens Heyns egter ‘’n onvergeeflike logiese fout’, maar in die werk van Durand kry Teilhard se evolusiedenke ‘n ander en sinvoller interpretasie.
Alhoewel die tydsgees skepties teenoor evolusie gestaan het, het Teilhard dit naatloos met sy teologie verenig. Die opgestane Christus was vir Teilhard die Kosmiese Christus, die Een wat alles met sy teenwoordigheid vul. Aan ‘n vriend skryf hy tydens die Eerste Wêreldoorlog dat hy Christus hartstogtelik lief wil hê, en ‘die kosmos met ‘n groot liefde bemin’ (Durand 2013:53).
Durand sê tereg dat die ‘mistieke aard van (Teilhard se) vroomheid’ dit vir hom as ‘t ware moontlik gemaak om die mistieke aard van die wêreld en natuur se evolusie in sy teologie te integreer. En daarom kon hy God ook in alles soek, in elke deeltjie van die kosmos ontdek (Durand 2013:58).
Oor dié eenheid was hy opgewonde en wou hom lewenslank ‘aan dié geseënde eenheid met God’ wy (Durand 2013:56). Teilhard kon hom in die herfs se kleure verheug, die groen graslande geniet, die woude en rotse waardeer en selfs vir dooie blare waardering hê. Vanweë ‘sy onwrikbare geloof dat God die Skepper van hierdie aarde is’, kon hy opgewonde oor die heelal raak; was die gemeenskap met God en die aarde uiters belangrik want ‘n mens kon ook deur die aarde met Hom gemeenskap hê (Durand 2013:57). Baie het gemeen dat hy ‘n panteïs was, maar vanweë sy mistieke band met God en die aarde was sy denke heeltemal anders. Soos Dante wou hy net die hemel en die aarde bymekaarbring en God en wêreld onlosmaaklik aan mekaar verbind.
En om te kon sê wat Teilhard wou sê, was die evolusie baie belangrik. Die evolusiedenke het hom die woorde en begrippe en die perspektiewe gegee om oor God, Christus, die wêreld en ons te praat. Volgens Paulus sug die skepping in Romeine 8:22 na vervulling: ‘Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting’, en getrou aan sy evolusiedenke sê Teilhard dat God deur Christus hierdie verwagting ‘evolusionêr’ vervul. Jesus is dus meer as net die Een wat vir ons sondes gesterf het, want Hy is die kosmiese Christus wat die heelal vul, maar ook groter as alles en almal is.
Ons moet daarom anders oor die liggaam van Christus dink. Dit is so groot soos die kosmos self. Christus is dus nie maar net Jesus van Nasaret wat uit die dood opgestaan het nie, maar ‘n reusagtige groot wese wat voortdurend ontwikkel en so groot soos die heelal groei. In hierdie oneindige groot wese leef ons almal en ontwikkel ons ‘n bewussyn; in hierdie kosmiese Christus leer ons om die gefragmenteerde wêreld deur liefde te verander en te omvorm.
Vir die kerk was Teilhard de Chardin se denke egter moeilik om te aanvaar en hy het lewenslank die smart van kerklike kritiek en dreigende skorsing verduur. Van die begin van die universiteitswese was daar soms spanning tussen universiteit en kerk en dit is ook goed so want dit skerp albei intellektueel op. Albei is op mekaar aangewese en moet voortdurend in kritiese gesprek verkeer.
By Teilhard het dinge amper te ver gegaan. Voortdurend is beperkings op hom gelê soos dat hy hom minder met die teologie en meer met die geologie moes besighou. Van sy boeke kon nie gepubliseer word nie omdat die kerk teen sy sieninge gekant was. Altyd moes daar toestemming van die hoof van die Jesuïete-orde en ander amptenare verkry word en altyd het hy gepoog om sy publikasies vir die kerklike owerhede aanvaarbaar te maak. Op ‘n keer is selfs gesê dat hy sy standpunte moes terugtrek anders kon hy nie meer priester wees nie. Hy wou nie, maar omdat hy ook nie sonder kerk en priesterskap kon leef nie, het hy toegegee. Dit was egter nie genoeg nie want Teilhard is ook na China verban omdat hy ‘n verleentheid vir die kerk in Parys geword het (Durand 2013:237). Dit was nie vir hom maklik nie want waar hy ook al was, het hy na Parys verlang.
Daar is soveel ander fasette van Teilhard se lewe en werk wat Jaap Durand op ‘n treffende manier vertel. Durand se werk het self tot ‘n soort ‘volheid’ gegroei. Hy het baie inligting tot ‘n mooi eenheid saamgesnoer. Hy het volledige biografiese inligting, presiese datums en tye, tallose mense en ontmoetings, asook allerlei vertellinge oor Teilhard se eindelose studie en navorsing, voortdurende skryf van boeke, artikels, verslae en veral briewe mooi inmekaar laat vloei om ‘n ryk en boeiende prentjie van Teilhard de Chardin te skets. Soms lees die boek vanweë al die ‘volheid’ aan detail ‘n bietjie moeilik, maar aan die einde het hierdie leser die gevoel gehad dat alles die moeite werd was want uiteindelik maak al die detail die Teilhard-beeld net voller. Die Afrikaanse teologiese wêreld is Durand dankbaar vir hierdie besondere werk.
Dalk is daar nog iets. Dit is woorde van Teilhard voor sy dood. Dit is woorde van ‘n mens wat veel vir sy sieninge gely het: ‘Ek gaan om Hom wat kom te ontmoet’ (Durand 289)
Boekelys
- Durand, J 2013. Evolusie, Wetenskap en Geloof. Wellington: Bybel-Media. Dit is ook beskikbaar op die BM-webtuiste, www.bybelmedia.co.za of by 021 873 0822.
- Heyns, J A 1966. Die Evangelie in krisis. Tafelberg-Uitgewers: Kaapstad.
- Antonites, A 19 Julie 2010. Vrae aan Alex Antonites oor sy evolusie-boek. http://teo.co.za/artikel/articles/333/1/Vrae-aan-Alex-Antonites-oor-sy-evolusie-boek/Bladsy1.html