Outeur: Jaap Durand
Uitgewer: Bybel-Media (2013)
Bladsye: Bl 336
Resensent: Daniël P Veldsman
Dit is met groot belangstelling dat ek die biografie oor die Rooms-Katolieke teoloog en geoloog Teilhard de Chardin (1881 – 1955) van die Suid-Afrikaanse teoloog, Jaap Durand, (1934-) onder oë neem.
Nie alleen was De Chardin as Jesuïte-priester een van die voorste geologiese en paleontologiese wetenskaplikes van sy tyd nie, maar hy was ook een van die mees omstrede Rooms-Katolieke teoloë, juis as gevolg van sy waagmoed om uitgesproke na ‘n sinvolle gesprek tussen teologiese insigte en wetenskaplike bevindinge te soek.
En dan skryf een van ons eie Suid-Afrikaanse gerespekteerde en bekroonde teoloë juis oor hom. Ook Durand ken omstredenheid in sy waagmoed van uitgesproke kritiek op die Suid-Afrikaanse apartheidsideologie as teologiese dwaling. Klink al nog vóór ek die biografie van De Chardin deur Durand onder oë gehad het, soos ‘n baie belowende kombinasie!
Duidelik stel Durand (bl 11) die probleemstelling van sy boek, naamlik die verhouding tussen wetenskap en geloof. Die vraag is dan vir hom hoe dit aangepak moet word?
Daar is meer as een moontlikheid. Sy keuse is om dit aan te pak vanuit die besondere perspektief van ‘n persoon wat sy lewe juis daaraan gewy het om hierdie verhouding van geloof en wetenskap aan te durf. Vir Durand is dié persoon – wat volgens hom sy tyd vooruit was – Teilhard de Chardin. De Chardin wat as Christen-teoloog en natuurwetenskaplike probeer het om sowel ‘n sintese tussen die evolusieteorieë van sy tyd en teologie te bewerkstellig, maar ook om die uiters komplekse terrein van die kosmologie te betree.
Ook duidelik stel Durand dat die bedoeling van sy boek tweeledig is. Eerstens is dit nie om enige uitvoerige kritiek op De Chardin se denke en lewe te lewer nie, maar veel eerder om hom as denker in Suid-Afrika bekend te stel, spesifiek onder Afrikaansprekendes (vgl bl 313). En tweedens om die onderwerp van evolusie weer opnuut aan die orde te bring.
In De Chardin ontmoet geologie en teologie, wetenskap en Bybel, evolusie en die Christelike geloof mekaar. Op ‘n besondere wyse beskrywe Durand vir De Chardin as ‘n persoon met die intuïtiewe verbeelding van ‘n mistieke denker wat nie geskroom het om die vrae van sy tyd spekulatief aan te pak en opsoek te gaan na ‘n sintese tussen wetenskap en geloof nie.
Die vrae wat De Chardin aangepak het, is volgens Durand ‘n uitdaging wat vandag herhaal word. En om hierdie uitdaging nader te beskrywe, vind hy dit nodig om kortliks na die geskiedenis van die worsteling rondom geloof en natuurwetenskap te kyk.
Dit is geen nuwe debat nie. Dit kom al van ver. Dit moet al by Galileo Galilei en by Charles Darwin gaan haal word. Dan moet ons aanbeweeg na vandag.
Vir Durand (bl 13) is daar veral twee probleme wat weer op die voorpunt staan, te wete die aansprake van die evolusieleer en die vraag na die oorsprong van die heelal. En die wyse waarop hierdie twee probleme in samehang ons vandag uitdaag, vind vergestalting in die bevraagtekening van die geloof in God as Skepper. Skerper as vantevore word hierdie bevraagtekening op die spits gedryf. En baie van die invloedryke voorstanders van die natuurwetenskaplike standpunt aan die een kant en die voorstanders van die geloofstandpunt aan die ander kant, maak hulle daaraan skuldig – volgens Durand – om op ‘n onvanpaste wyse die gesprek óf af te wys óf aan te pak. So byvoorbeeld praat hy van ‘n “beterweterige verwaandheid” aan die kant van gelowiges, van “belaglike aannames” en “onkundige uitsprake” (Durand bl 17). En aan die kant van ateïstiese filosowe en nie-gelowige kosmoloë wat ‘n soort van sendingveldtog voer teenoor alles wat in die Christelike geloof bely word. Boonop word hierdie verhouding dan verder vertroebel deur enersyds Christelike kreasioniste en die voorstanders van “intelligent design”, en andersyds deur natuurwetenskaplik-fundamentalistiese reduksionisme.
En nog vóór al hierdie eietydse denkwoelinge, het die Protestantse teologie vroeër dit skynbaar nie nodig gevind om hierdie vraagstelling met erns te bejeën nie. Dit wat Durand hier beskrywe, sou ’n mens kortweg kon noem: ‘n morsige diskoers en baie emotiewe deurmekaarspul!
Vir Durand is die situasie in Suid-Afrika vandag, as dit vergelyk word met ontwikkelinge elders in die wêreld, nie presies dieselfde nie, maar ook nie wesenlik verskillend nie. Maar die spitspunt is: opnuut moet in die lig van al hierdie ontwikkelinge oor die vraag besin word na wat presies met “in die begin” bedoel word in die samespel van teologie, kosmologie en teoretiese fisika. Daarom betoog Durand dat De Chardin – die mistikus – ons hiermee kan help, want dit is juis hy wat in sy tyd die “waagmoed van ‘n profeet gehad” het (Durand, bl 25). Die waagmoed om evolusie en paleontologiese bevindinge en die Christelike denke sáám tot ‘n sinvolle antwoord te bedink.
Vir Durand om die diepte van De Chardin se visionêre soeke na ‘n sinvolle antwoord te kan peil, is dit noodsaaklik om sy lewe te ken. Daarom neem Durand die leser op die lewenspad van die swerwende monnik, van die priester uit Auvergne (hoofstuk 2). Op lewendige wyse word sy familiegeskiedenis, sy lewens- en denkwêreld geskets. Ja, selfs die landskap van sy herkoms!
Durand breek in fyn vertellinge die vroeë lewensweg van De Chardin oop in verwysing na die historiese konteks en ontwikkelinge van sy tyd; na die innerlike spanning wat in die jong De Chardin toenemend geleef het, te wete die van ‘n mistieke ontrekking van die wêreld, en sy toenemende gevoel van aangetrokkenheid tot die kosmos; sy studiereise na die Midde-Ooste en Ooste en sy terugkeer na England. Hy neem die leser na sy vriendskappe, na ’n verhouding met die pous tot en met De Chardin se ordening as priester in 1911. Hierna kom ‘n besondere ontwikkeling ter sprake, naamlik sy toenemende belangstelling in geologie en paleontologie en selfs sy eerste fossielvonds!
In die hierop volgende hoofstuk (hoofstuk 3) spits Durand sy beskrywing van die lewensweg van De Chardin toe op wat hy noem: die “radikaal mistieke denke uit ‘n loopgraaf”. De Chardin word soldaat gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Dikwels het hy in hierdie tydperk waar hy as soldaat diens gedoen het, ook as priester opgetree. Soldaat-priester! Soldaat-priester wat met die verloop van die oorlog vereer is met eervolle vermeldinge en medaljes! In hierdie tydperk skryf Durand (bl 56) word hierdie soldaat-priester se passie vir God en vir die wêreld net nog sterker. Mooi beskrywe Durand (bl 57) De Chardin se ervaring as ‘n geloofsverdieping wat vir hom “ sy absolute afhanklikheid van die kreatiewe en heiligmakende energie van God wat aan hom die passie vir God en die passie vir die lewe gee” waardeur alles vir hom “die selfgewende en transformerende God word”.
Alles. ‘n Alles wat evolusie ingesluit het, ook God se transendensie. Wat menslike bewussyn ingesluit het. Wat ‘n nuwe verstaan van die kosmiese Christus ingehou het. En in die uitwerk van sy gedagtes, speel Maurice Blondel ‘n belangrike gespreksrol.
Hierop volg die begin van sy akademiese loopbaan aan die Institute Catholique in Parys en die wyd uitkringende reaksies op sy werk, sodanig so dat dit vir sy orde ‘n gerieflike uitweg was om hom na China te stuur om sy toenemende paleontologiese belangstellinge na te jaag. Hierdie nuwe fase in sy lewe beskryf Durand (bl 75) as sy “Eerste Chinese Ballingskap” (hoofstuk 4) – ‘n tydperk waarin hy met alles wat anders was, die groot verskeidenheid so beïndruk is dat hy opnuut begin vra en soek het na ‘n wyse waarop dit as eenheid verbind kon word.
‘n Jaar later is hy, ná verskeie ekspedisies, weer terug in Parys (hoofstuk 5) en hervat hy sy klasse en navorsingswerk. Nuwe begrippe soos biosfeer en noösfeer, word deel van sy evolusionêre denke; sekere tradisionele oortuiginge soos die erfsonde, word deur hom gekritiseer. Onder ‘n wolk van toenemende omstredenheid vertrek hy weer na China as ‘n “professor met verlof” – ‘n tydperk wat Durand noem sy “Tweede Periode van Ballingskap” (bl 90) waar hy mettertyd moes verneem dat sy band met die Instituut beëindig is.
Tog kry hy dit reg om ‘n werksooreenkoms vir twee jaar lank tussen Parys en Peking daar te stel. In hierdie tydperk voltooi hy die manuskrip wat later as Le phenomena humain gepubliseer is – sy bekendste en belangrikste boek! Hierna word China egter sy werksplek. In die hieropvolgende hoofstukke (hoofstuk 6 tot 10) word die omvattende en indringende reise, werksaamhede en skrywes, ontdekkinge, besoeke en kongresse van De Chardin se indrukwekkende lewe geskets: Ethiopië, Amerika, ontdekking van Sinanthropos, Die Geel Ekspedisie.
Maar dan ook die eietydse omstandighede waaronder De Chardin hom bevind het, kerklike spanning wat toenemend opgeduik het, en die hooftrekke van die heersende filosofies-teologies denkklimaat: Dreigende oorlog met Japan; die heersende sciëntisme, positivisme, empirisme en Neo-Darwinisme.
Te midde hiervan, kristalliseer drie grondoortuiginge van De Chardin uit: Sy geloof in die wêreld, sy geloof in die gees in die wêreld, en geloof in die steeds groeiende personaliteit van die wêreld (bl 154). En om uiteindelik iets van die spekulatiewe diepgang van sy teologiese denke te begryp, moet ons volgens Durand vra na hoe dit deur De Chardin begryp is, aangesien dit die vertrekpunt van sy denke is. Netjies vat Durand die uitgangspunt van De Chardin – wat die aarde is – saam: Die materie waaruit die gees en lewe voorkom en wat in ‘n stygende evolusionêre proses voorlopig voltooiing in die mens vind, en dan finaal in die kosmiese Christus. Die totale, kosmiese Christus vind ons aan die eindpunt van ‘n universele evolusie van ‘n gepersonaliseerde heelal as kulminasiepunt (punt Omega) van die eenwording van die wêreld in God waarin die veelheid in eenheid saamgebundel word.
Twee besondere oortuiginge verdiep en bepaal De Chardin se visionêre denke, te wete dat die liefde van God die onuitputlike bron van alle menslike energie is, en dat die stryd tussen die rede en geloof (wetenskap en godsdiens) eintlik maar ‘n worsteling is tussen twee vorme van mistiek (bl 176)!
Benewens hierdie uiteenlopende vertellinge en beskrywinge, doen Durand moeite om die leser ook aan die persoon De Chardin bekend te stel: Nie net sy indrukwekkende kundigheid nie, maar ook sy besondere persoonlikheid (aandurf van nuwe uitdaginge; onselfsugtigheid en behulpsaamheid) en gewoontetjies (sy kort maar kragtige middagslapies!), ja, selfs sy vreemde klerestyl (dra van tenniskoene!).
Hierop volgens fokus Durand op De Chardin – nou terug na Tweede Wêreldoorlog in Frankryk waarna sy hart maar blywend ‘n punt getrek het – twee besoeke aan Suid-Afrika (hoofstuk 10).
In dié tyd het die besondere ontdekking van die Australopithecus africanus opslae gemaak. De Chardin se voorgenome besoek word in die wiele gery deur ‘n hartaanval en vind toe eers later plaas. Tydens sy uiteindelike besoek, kom veral drie terreine in Suid-Afrika ter sprake, te wete Sterkfontein, Makapanvallei en die duine naby Hopefield. In besonder word De Chardin geboei deur die ontwikkeling van die gereedskapsindustrie (bl 232) van waaruit hy sy standpunt in toenemende mate regverdig dat die mens ouer en dieper in Afrika gewortel is as in Asië.
Soos wat De Chardin ouer geword het, het sy lewe nie makliker geword nie. So beskrywe Durand (hoofstuk 12) dat die sewentigerjarige De Chardin nog eens ‘n banneling word. Die kerklike owerhede maak duidelik dat hy vir kerk en sy orde ‘n verleentheid is en is hy weg uit Parys New York toe. Maar dit stop De Chardin geensins om verder te dink en te werk nie. Kort hierna egter bars die Piltdown-skedel-bom! In kort: die blootlegging van ‘n paleontologiese bedrogspul waaraan die naam van De Chardin ook gekoppel is!
Vanaf 1953-4 versleg De Cardin se siekte- en geestestoestand. Sy werk aan die sintese van wetenskap en geloof het egter ‘n besondere diepte en samehang bereik. Hiervan gee Durand (hoofstuk 15) ‘n samevattende oorsig onder die opskrif: Die visoen van Teilhard de Chardin (bl 291-326).
In De Chardin se visoen vorm die begrip “wording” die kern, teenoor die tradisionele soeke na essensie. Inhoudelik vind dit gestalte in sy verbinding van die transendente God van die Christelike godsdiens met die immanente, verborge God van evolusie. God is ‘n God van kosmogenese, ‘n wordende kosmos.
En verder meer: Antropologie moet verstaan word as antropogenese; Christus moet benader word vanuit Christogenese! Wording wat gekenmerk word deur toenemende konvergensie en kompleksifisering, totdat die evolusie van die wêreld en van die menslike gees tot by die punt Omega kom, ook genoem die God-Omega, wanneer God alles en in almal sal wees. Op ‘n besondere wyse tipeer Durand die kosmologiese spekulasie van De Chardin as versteekte doksiologie. Op Paassondag, 10 April 1955, sterf hy aan hartaanval.
In die slothoofstuk (Naskrif, hoofstuk 16) gee Durand sy eie teologiese ontwerp weer (aan die hand van kort besprekinge van ‘n aantal teksgedeeltes wat handel oor skeppingsmotiewe) in die lig van De Chardin se evolusiedenke en denkontwikkelinge in Afrikaansprekende en enekele kerklike kringe in Suid-Afrika. Opnuut bevestig hy ten slotte sy verstaan van De Chardin as mistikus.
Na my oordeel – soos in die inleidingsparagraaf verwagtingsvol genoem – stel die belowende kombinasie van De Chardin-Durand nie teleur nie. Aan beide sy bedoelinge met hierdie boek voldoen hy treffend. Op ‘n baie besondere wyse in Afrikaans word die diepgang van De Chardin se lewe en denke – met die hooffokus op sy lewe – weergegee.
Dit sou onvanpas wees om van hierdie boek ‘n omvattende en diepgaande bespreking te verwag van die eietydse omvangryke wetenskap-teologie diskoerse. Dit kom slegs in breë trekke ter sprake, met ‘n aanduiding van enkele kernvraagstukke. Dit is ook die geval met Durand se eie poging aan die einde waarin hoofsaaklik op skeppingsmotiewe gefokus en ‘n teologiese interpretasie van “in die begin” gegee word. Sy poging kan en sal waarskynlik aanleiding gee tot meer omvattende teologiese debatte. Maar die Afrikaanse leser kan wel verwag om deur Durand se goeie boek naby aan De Chardin se waagmoedige lewe en visionêre denke as mistikus te kom.